Kenmerkende leerstellings van Houtkruis Bybelkerk


By Houtkruis wil ons oop en eerlik wees oor wat ons verkondig. Om deel te wees van ons gemeente word daar nie verwag dat iemand met elke een van die volgende leerstellings saam stem nie. Tog is hierdie leerstellings deel van ons etos en onderskei dit ons van sekere ander gemeentes.

Ons preek normaalweg sistematies deur boeke van die Bybel, en maak erns daarmee om die oorspronklike betekenis van die teks, in konteks te verduidelik in elke preek. Slegs vanuit die skrywer se oorspronklike bedoeling in die teks kan ons aanvaarbare toepassings van God se Woord op ons lewens vandag maak.
Ons glo dat die Bybel sake van die hart en siel aanspreek. Die skrif is ‘n voldoende bron van openbaring om hierdie “siektes van die siel” te behandel en volkome te genees wanneer dit toegepas word met geloof in Christus. Bybelse berading is gegrond op ‘n skriftelike siening van die mens, sonde en die oplossing tot sonde - redding deur en gehoorsaamheid tot Jesus Christus - en is gevolglik nie versoenbaar met sekulêre sielkunde nie.
Ons verkondig die gereformeerde waarhede vasgevang in die Engelse akroniem TULIP: Total Depravity; Unconditional Election; Limited Atonement; Irresistible Grace en Perseverance of the Saints.
Ons verkondig dat wanneer daar ware redding plaasvind in ‘n mens se hart, word Jesus as Here en Meester aanbid. Om ‘n slaaf te wees van Christus is om werklik vry te wees. Wanneer iemand sê dat Christus sy Heer is terwyl hy nog steeds in ongehoorsaamheid leef, soos die wêreld, is dit ‘n bewys dat ware redding nog nie plaasgevind het nie (Matt. 7:21-23).
Ons glo dat elke plaaslike kerk deur meer as een Ouderling gelei moet word. Ouderlinge moet volwasse gelowige mans wees en voldoen aan die kwalifikasies van ‘n Ouderling soos in 1 Tim. 3 en Tit. 1 uiteengesit. Ouderlinge dra die God gegewe finale gesag in die gemeente as onder-herders. Hulle instruksies moet vanuit God se Woord kom en moet as sulks gehoorsaam word deur die gemeente (Heb. 13:17).
Lede in die gemeente wat weier om te bekeer van sonde word deur die Matteus 18 proses wat Jesus vir ons gegee het, uit die kerk gesit. Kerk dissipline eer God en beskerm die gemeente. Verder geskied kerk dissipline met die beswil van die betrokke persoon in gedagte (1 Kor. 5:1-13; Gal. 6:1). Die doel en hoop is dat hy/sy tot inkeer sal kom en wegdraai van sonde. Na daadwerklike bekering word so ‘n persoon weer in die gemeente hartlik verwelkom (2 Kor. 2:5-8).
Ons glo dat die ganse heelal deur God geskape is, binne God se ses werksdae wat vergelyk kan word met ses 24 uur dae (Eks. 20:11). Hierdie skeppings aksie was deur God gedryf en het op ‘n bo-natuurlike manier plaasgevind in ‘n kort tydperk. Verder glo ons in ‘n globale vloed (Gen. 7). Ons glo dat wetenskap wat nie met ‘n akkurate interpretasie van die Skrif strook nie, gebrekkig is en verdere ondersoek vereis. Alle wetenskap sal eendag 100% in lyn wees met God se Woord.
God het die mens gemaak as man en vrou, beide in Sy beeld, gelyk in waarde maar tog verskillend in rol. Hierdie rol verdeling kom neer op manlike leierskap en vroulike onderdanigheid en word veral gesien binne die Christelike huwelik (Ef. 5:22-33) en in die gemeente (1 Tim. 2:8-15; Tit. 2:2-5). Hierdie rol verdeling is gegrond op God se skeppings ontwerp in ‘n perfekte wêreld (Gen. 1-2). Die begeerte om hierdie struktuur te weerstaan is eintlik deel van die sondeval (Gen. 3:16-17, Gen. 4:7).
Ons doop slegs mense wat reeds dissipels is van Jesus. So ‘n persoon moet (1) die evangelie kognitief verstaan en glo; (2) verstaan dat die doop ‘n eksterne teken is van ‘n interne realiteit.
Die gawes van die Gees wat nuwe openbaring gegee het (soos profesie en tale) was daar vir ‘n unieke oorgang tydperk (van die Ou Verbond na die Nuwe, soos ons in die boek Handelinge sien). Vandat die Kanon van die skrif voltooi is, het ons geen ander God-gegewe bron van spesiale openbaring as die skrif nodig nie (1 Tim. 3:16-17) en dus het hierdie genade gawes kort na die dood van die Apostels opgehou.
Ons dispensasie teologie kom daarop neer dat ons glo dat God se onvoorwaardelike beloftes aan die nasie Israel steeds staan (Num. 23:19) en vervul sal word in ‘n letterlike 1000 jarige vrederyk op aarde wanneer Christus op die troon van Dawid gaan sit en regeer (Op. 20:1-5). Ons glo dat Christus voor die groot verdrukking Sy Kerk gaan kom haal in die wegraping (1 Tes. 5.9; 1 Tes. 4:13-18)