Wat ons glo


Die Bybel is deur God geïnspireer, foutloos, volledig, voldoende, onfeilbaar en ons finale gesag. Soos 2 Tim. 3:16, 17 sê - Die hele Skrif is deur God ingegee [geïnspireer] en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid, v.17 sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus.

Ons glo dat daar net een lewende God is (Deut. 6:4), wie ewiglik bestaan as drie persone: Vader, Seun en Heilige Gees (Matt. 28:19). Elke persoon is volkome God en elke persoon verdien om aanbid en gehoorsaam te word.

Ons verkondig dat God die Vader, die eerste persoon van die Drie-Eenheid, oor alle dinge volgens Sy wil en genade beskik (Ps. 145:8-9; 1 Kor. 8:6). Hy is die skepper van alle dinge (Gen. 1:1-31; Ef. 3:9). Hy is soewerein oor alles (Ps. 103:19; Rom. 11.36).

Ons verkondig dat Jesus Christus die tweede persoon van die Drie-Eenheid is. Hy beskik, soos die Vader, oor al die Goddelike eienskappe (Joh. 10:30; 14:9).

Met Sy vleeswording het die tweede persoon van die Drie-Eenheid al die menslike eienskappe aangeneem en so aan die mens gelyk geword (Fil. 2:5-8; Kol. 2:9). Hy is dus waarlik mens en waarlik God (Joh. 5:23; 14:9-10; Kol. 2:9). Jesus was op alle vlakke versoek soos ons, maar tog het Hy nooit gesondig nie (Heb. 4:15).

Ons verkondig die maagdelike geboorte van Jesus (Jes. 7:14; Matt. 1:23, 25);

Jesus Christus se plaasvervangende dood (Joh. 10:15; 1 Kor. 15:3; 1 Pet. 2:24), Sy liggaamlike opstanding uit die dood (Matt. 28:6; Luk. 24:38, 39; 1 Kor. 15:20, 23), dat Hy opgevaar het na die Vader (Hand. 1:9-11; Rom. 8:34) en sit aan Sy regterhand vanwaar hy vir ons intree (Heb. 7:25; 9:24).

Ons verkondig dat Jesus die enigste middelaar tussen God en die mens is. Jesus self het dit die beste gesê: Joh. 14:6Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie.

Ons verkondig dat die Heilige Gees al die Goddelike eienskappe besit en daarom is Hy een in wese met die Vader en die Seun (Matt. 28:19; Hand. 5:3-4; 1 Kor. 12:4-6).

Ons erken Sy soewereine werk in die skepping (Gen. 1-2), die vleeswording (Matt. 1:18), die geskrewe openbaring van die Woord (2 Pet. 1:20-21) en wedergeboorte (Joh. 3:5-7).

Elke gelowige word geseël met die Heilige Gees by redding (Ef. 1:13; 4:30; 2 Kor. 1:12) en die Heilige Gees woon permanent in elke gelowige (Rom. 8:9. 15; 1 Kor. 3:16).

Ons onderrig dat God die Heilige Gees soewerein is in die uitdeel van al sy gawes. Ons is oortuig dat die teken gawes (soos spreek in tale, profesie en om wonderwerke te kan verrig) ‘n unieke doel gehad het in die oorgang fase tussen die Ou en die Nuwe verbond. Hierdie gawes het die boodskap van die evangelie en die boodskappers van die evangelie beaam in die tyd van die apostels (1 Kor. 12:4-11; 13:8-10; 2 Kor. 12:12; Ef. 2:20; Heb. 2:1-4). Ons glo verseker dat God vandag nog wonderwerke doen, selfs deur die gebede van Sy kinders, maar ons maak onderskeid dat God nie meer die teken genadegawes gee nie.

Ons verkondig dat God die mens na Sy beeld en gelykenis geskape het (Gen. 1:26, 27).

Ons onderrig dat, deur Adam se sonde van ongehoorsaamheid aan die wil van God, die hele mensdom in sonde geval het (Gen. 3:1-19; Rom. 5:12). Alle mense word dus gebore in sonde en kies om te sondig en is dus onder God se oordeel (Ef. 2:1-3; Rom. 1:18; Rom. 3:10-19; 6:23). Die mens het nou geen mag in homself wat hom in staat stel om homself te red nie (1 Kor. 2:14, Ef. 2:12). Die mens se redding is dus geheel en al van God se genade deur die verlossings van Jesus Christus afhanklik (Ef. 2:5-8; Rom. 11:6).

Ons verkondig dat verlossing geheel en al uit God se genade is, dat dit bewerk is deur Jesus se lewe en dood en verkry word nie deur menslike meriete of werke nie maar alleenlik deur geloof in die persoon en werk van Jesus Christus (Joh. 1:12; Rom. 3:28; Ef. 1:7; 2:8-10; 1 Pet. 1:18-19).

Ons verkondig dat die uitverkiesing ‘n daad van God is waardeur Hy, in Jesus, nog voor die grondlegging van die wêreld diegene uitverkies het wat Hy uit genade red (Rom. 8:28-30: Ef. 1:4-11; 2 Tes. 2:13; 2 Tim. 2:10). Ons verkondig dat soewereine uitverkiesing nie die verantwoordelikheid van die mens wegneem om sonde te bely en op Christus as Verlosser en God te vertrou nie (Joh. 3:18-19, 36; 5:40; Rom. 9:22- 23; 2 Tes. 2-10-12).

Ons verkondig dat die persoon wat hulself werklik bekeer en in Jesus Christus glo deur God verklaar word as regverdig voor Hom (Regverdigmaking - Gal. 2:16). God doen hierdie deur die sondaar se sonde aan Jesus toe te reken, en Jesus se perfekte geregtigheid aan die sondaar toe te reken (2 Kor. 5:21). Hierdie is net moontlik omdat Jesus die toorn van God in die sondaar se plek versadig het, toe Hy aan die kruis gesterf het (Rom. 3:24-26). So kan die sondaar God se kind wees en in God se teenwoordigheid ingaan.

Ons verkondig dat elke Christen-gelowige, deur regverdigmaking, heilig voor God is. Hierdie posisionele heiligmaking geskied oombliklik en moet nie verwar word met progressiewe heiligmaking nie. (Hand. 20:32; 1 Kor. 6:11; 2 Tes. 2:13; Heb. 10:10; 1 Pet. 1:2).

Ons verkondig dat daar ook, deur die werking van die Heilige Gees, ‘n progressiewe heiligmaking is waardeur die gelowige oor tyd groei in praktiese heiligheid. Deur gehoorsaamheid aan die Woord van God, die krag van die Heilige Gees, gebed en deur deelname aan ’n gemeente is die gelowige in staat om toenemend heilig te lewe. (Joh. 17:17-19; Rom. 6:1-22; 2 Kor. 3:18; 1 Tes. 4:3-4; 5:23).

Ons word dus gered deur geloof in Jesus Christus, maar reddende geloof gaan oor in ’n lewe van gehoorsaamheid waarin ons progressief meer soos Jesus word.

Ons verkondig dat alle ware verlostes in God se reddende krag leef en so vir ewig veilig in Jesus Christus is (Joh. 5:24; 6:37-40; 10:27-30; Rom. 5:9-10; 8:1; 31-39; Fil. 1:6).

Ons verkondig dat almal wat reddende geloof in Jesus het onmiddellik deur die Heilige Gees in die geestelike liggaam van Christus, die kerk, geplaas word (1 Kor. 12:12 - 13). Die kerk is die bruid van Christus (2 Kor. 11:2; Ef. 5: 23-32; Op. 19:7-8), waarvan Christus die hoof is ( Ef. 1:22; 4:15; Kol. 1:18). Ons glo dat die liggaam van Christus ‘n plaaslike uitdrukking/uitbeelding het in plaaslike gemeentes waar gelowiges bymekaar kom vir Bybelse doeleindes onder die gesag van die Woord, wat bedien word deur geestelike herders wat aan skriftelike vereistes voldoen (Tit. 1:5-9).

Ons verkondig dat die doel van die kerk is om God te verheerlik (Ef. 3:21), om die gemeente op te bou in die geloof (Ef. 4:13-16), die Woord korrek te onderrig ( 2 Tim. 2:2, 15; 3:16-17), die twee ordonnansies (Doop en Nagmaal) te onderhou (Luk. 22:19; Hand. 2:38-42) en die evangelie aan die hele wêreld te verkondig (Matt. 28:19; Hand. 1:8; 2:42).

Ons verkondig die outonomie van die plaaslike gemeente, vry van eksterne gesag of beheer, met die reg tot selfbestuur en vry van enige inmenging van enige hiërargieë, individue of organisasies. (Tit. 1:5-9).

God is die een wat die huwelik definieer en dit aan ons voorhou as ‘n eksklusiewe eenwording tussen een natuurlik-gebore man en een natuurlik-gebore vrou (Gen. 2:18, 22-25). God het mans en vroue gelyk gemaak in waarde en belangrikheid (Gen. 1;26, 27; Gal. 3:28) maar verskillend in rolle in die huwelik en die kerk (1 Tim. 2:8-12; Ef. 5:22-33).

Ons verkondig dat ‘n homoseksuele verhouding vir God ‘n veroordelende gruwel is, soos baie ander sondes, maar dat Hy in Sy genade die krag gee om sulke sondige geneigdhede te heilig (Rom. 1:26-27, 1 Kor. 6:9-11, 1 Tim 1:10).

Ons verkondig dat die fisiese dood geen verlies van ons onsterflike bewussyn behels nie (Op. 6:9-11) en dat die siel van die gelowige onmiddellik in die teenwoordigheid van Christus is (Luk. 23:43; Fil. 1:23; 2 Kor. 5:8), dat daar ‘n skeiding van siel en liggaam is (Fil. 1:21-21) en dat die skeiding sal voortduur tot en met die wegraping (1 Tes. 4:13-17), wat die begin is van die eerste opstanding (Op. 20:4-6), wanneer die siel en liggaam herenig sal word en vir ewig saam met Christus sal wees (Fil. 3:21; 1 Kor. 15:35-44; 50-54).

Ons verkondig die liggaamlike opstanding van alle mense, die gereddenes tot die ewige lewe (Joh. 6:39; Rom. 8:10-11, 19-23; 2 Kor. 4:14), en die ongereddenes tot oordeel en ewige straf en verdoemenis (Dan. 12:2, Joh. 5:29; Op. 20:13-15).